Ma se Boereboontjies
Wanneer ek min geslaap het of sommer net sielsmoeg is, roep die kospotte my. Dan maak ek trooskos of sommer net onthou kos … kos met geen fieterjassies … kos sonder enige ‘make-up’.
Heel bo aan my lys van gunsteling trooskos staan boereboontjies, blomkool met witsous (nie kaassous nie), soetpampoen en veerligte kapokaartappel.
Ek het die voorreg gehad om my ma gereeld te sien in haar winter jare. Op meer as een geleentheid het ek haar sien sit by die eetkamertafel terwyl sy luister na musiek op haar draagbare radio (waarsonder sy nooit was nie), besig om boontjies metodies te kerf – party vir die pot, ander vir die vrieskas … en dit is nou waarna ek verlang … om net rustig by haar te sit en te gesels terwyl sy kerf. Ek het baie keer gewonder of dit regtig nodig is om die boontjies so presies en fyn te kerf. Dit verander tog nie die smaak van die dis nie. Die antwoord was altyd ja, dit is nodig want dis terapeuties. Dit gee jou tyd om te peins oor dit wat verby is en ted room oor dit wat nog gaan kom.
Ma, ek mis jou vandag!
Bestanddele:
- 1 middelslag ui, gekap
- 500g groenboontjies, gekerf
- 1 medium grootte aartappel, geskil en in blokkies gesny
- Sout en wit peper
- 10ml botter
Metode:
Voeg ui, boontjies, aartappel, sout en peper in ‘n kastrol met net genoeg water om dit te bedek.
Bring tot kookpunt en prut tot aartappel sag is.
Voeg botter by en breek aartappel met ‘n vurk op tot dit soos kapokaartappels lyk.
Sit warm voor.
Variasie: vervang die groenboontjies met spinasie, kool of wortels.